UIT DIE GESKIEDENIS: Die despotiese beheer van die Kompanjie lei tot die Trekbeweging na die Binnelande

In Julie 1700 het goewerneur Willem Adriaan van der Stel 'n aantal immigrante na die land van Waveren, later Tulbagh genaamd, gestuur om 'n neersetting aldaar te stig.

Sowat twee maande later het 'n addisionele aantal huisgesinne daarheen vertrek om hulle in daardie afgeleë kom tussen die berge as veeboere metterwoon te vestig.

Die natuurlike uitbreidingsproses van die volkplanting aan die Kaap het dus gedurende die loop van 'n halfeeu tot anderkant die bergreeks, wat die kusvlakte van die eerste terras afskei, gevorder.

Daarvandaan het die ou pioniers verder binnenslands gegaan om meer geskikte weiveld vir hul diere te soek, en so het die eerste groot trek van die Suidafrikaanse boerbevolking, langs die Breërivier af, begin.

Die verskyning van die trekboer op die toneel is een van die belangrikste feite in die geskiedenis van Suid-Afrika gedurende die agtiende eeu.

Vryheid van handel, so onontbeerlik vir die ekonomiese vooruitgang en voorspoed van die boerbevolking, was egter buiten die kwessie. Die koloniste is gekortwiek deur stremmende beletsels, soos monopolies, tiendes en ander willekeurige bepalings, wat alle handel en nywerheid in die kiem gesmoor het.

Die gevolg van hierdie verderflike stelsel was dat daar by die vroeë koloniste 'n neiging ontstaan het om hulle aan die despotiese beheer van die Kompanjie te onttrek en hulle so ver moontlik van hoofkwartiere te vestig.

Dit is die hoofoorsaak van die trekbeweging na die binnelande, wat so 'n treffende kenmerk van die geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse boerbevolking uitmaak.

Kort na die val en ontslag van goewerneur Willem Adriaan van der Stel het enkele burgers in besit gekom van sy veeposte anderkant die Hottentotshollandberge. Die trekbeweging het dus 'n nuwe rigting - langs die Riviersonderend-vallei - ingeslaan.

Die natuurlike uitbreidingsproses het ook in 'n noordelike rigting voortgegaan, en enige baanbrekers het hulle in die Swartland begin vestig.

Die hoofbestuur van die Oosindiese Kompanjie het af en toe sekere hooggeplaaste beamptes, hoë kommissasirsse genaamd, na die verskeie dele van hul handelsryk uitgestuur om nodige en gewenste veranderinge en verbeteringe aldaar teweeg te bring.

Kommissaris Van Imhoff, wat in 1743 in Tafelbaai aangekom het, het 'n reis na die binneland gemaak, en na sy terugkoms 'n rapport opgetrek, waarin hy van die toestand van die burgers op die voorposte melding gemaak het.

Die gevolg was dat die regering in 1745 in die Breërivier-vallei 'n nuwe drosdy gestig en 'n derde distrik, Swellendam genaamd, geproklameer het.

In dieselfde jaar is Swartlandskerk gestig in die dal waar die dorp Malmesbury later aangelê is.

Daarvandaan het die koloniste verder in die rigting van Piketberg versprei, en die trekbeweging het langsamerhand noordwaards langs die Olifantsrivier-vallei na Kamiesberg en die Hantam uitgebrei.

In 1760 het 'n burger, Koos Coetzee genaamd, in die buurt van Piketberg woonagtig, op 'n olifantjagtog noordwaarts gereis en die Grootrivier, wat sewentien jaar later die naam van Oranjerivier gekry het, deurgetrek.

Een van die redes vir die stigting van die nuwe distrik Swellendam was om die trekbeweging na die ooste te stuit. Alle pogings in daardie rigting het egter misluk, en die burgers het steeds vorentoe, verder en verder na die binnelande, gebeur.

Bron: Geskiedenis van Suid-Afrika 1700 - 1914, deur Eric Stockenstrom, B.A.

Laai nog meer