DriBuddi warmlug kleredroër: Werk dit goed?

Om wasgoed vinnig droog te kry is dit natuurlik die maklikste om dit sommer net in 'n tuimeldroër te gooi. 'n Uur of twee later is 'n hele bondel droog.

Maar dis gewoonlik skokkend om te sien hoeveel pluis daar na die tyd in die droër se filter vergader het. Al daardie materiaal is nou weggeneem van jou klere af.

Na 'n hele paar keer se tuimeldroog, vind jy ook sommer dat van die goedkoper klere sommer maklik met die hand uitmekaar geskeur kan word, so dun het dit al geword.

Dit is waarom ek begin kyk het na 'n alternatiewe manier om my klere droog te maak.

En dis toe dat ek na die "Dri-Buddi" kyk:

Dis nie 'n slegte toestel nie. Natuurlik soos met meeste van hierdie produkte wat hulle so vreeslik wonderlik op TV laat lyk, is dit nie volmaak nie.

Hier volg my ervaring van die produk:

Die eerste een wat ek gekoop het was foutief en wou glad nie warm lug blaas nie. Toe neem ek dit terug en kry een wat darem werk.

Die Dri-Buddi is maklik om aanmekaar te sit. Dankie tog, want ek sien regtig op daarteen om produkte self te moet aanmekaar sit. Gewoonlik bly sulke produkte maande lank ongebruik nog in die doos waarin dit verpak gekom het.

En ja, nou kan ek my klere droogmaak sonder dat dit verskriklik rondtuimel en materiaal verloor en beskadig.

In die Dri-Buddi hang jy die klere op hangers, maak dit toe deur die ritssluiter toe te trek, en laat warm lug die klere droogblaas.

Is daar 'n paar klagtes wat ek kan lug daaroor?

Ongelukkig ja. Noem my 'n suurknol, maar hier kom dit:

In die eerste plek is daar net nie genoeg spasie binne die toestel om 'n hele bondel nat wasgoed op te hang nie. Die verpakking sê die toestel kan tot 18 kledingstukke op 'n slag droogmaak.

Dit is eenvoudig net nie so nie. Soos jy kan sien op die foto hier bo, neem dit maar slegs sowat ses tot agt kledingstukke op 'n slag.

Tweedens moet jy die klere so mooi insit dat hulle nie aan mekaar raak nie, want waar hulle raak, bly hulle nat. Die warm lug moet maklik kan deursirkuleer in en om die klere.

Derdens neem dit verskriklik lank om die klere droog te kry. Dit kan maklik ses tot agt ure neem om die klere ordentlik droog te kry. Dit vergelyk natuurlik sleg met 'n gewone tuimeldroër wat nie meer as 'n uur en 'n half nodig het nie.

Vierdens weet ek nie wat op aarde hulle gedink het om die skakelaar/tydskakelaar binne-in die toestel te plaas nie. Dit maak nie sin nie, en maak dit net moeilik om die toestel af te skakel, want nou moet jy eers die seil ooprits voor jy dit kan bykom. Ek gebruik sommer net die skakelaar by die muur.

Die tydskakelaar kan ook net tot by drie ure gedraai word. Dis sinneloos, want dit neem ten minste ses tot agt ure om wasgoed behoorlik droog te kry met hierdie apparaat. Gelukkig kan die skakelaar ook na die ander kant gedraai word om dit permanent aan te hou.

Die prys is natuurlik iets om van te walg. Heeltemal te duur. Hierdie toestel kan maklik vir minder as die helfte van die prys verkoop word, en nog steeds 'n wins maak vir die verkoper. Maar nou ja, so ken ons mos nou die Verimark en daardie ander plek wat hierdie tipe goed verkoop vir tien keer wat dit werd is.

Die eerste keer wat jy die Dri-Buddi gebruik, ruik die klere na die een of ander chemikalië wanneer dit uitkom. Ek dink dis van die PVC seil. Gelukkig is die reuk minder na elke gebruik, en later ruik jy dit darem nie meer nie.

Sal jy nou nooit weer jou tuimeldroër gebruik, of nooit weer jou klere buite hang noudat jy 'n Dri-Buddi besit nie?

Ongelukkig kan jy nie net die Dri-Buddi gebruik nie.

Die rede is dat die klere wat net in die Dri-Buddi drooggemaak word, later begin stink. Ek is nie 'n wetenskaplike nie, maar ek dink dis omdat bakterieë begin versamel op die klere, veral omdat dit soveel ure vat om droog te word. Daardie warm klam toestand is net die regte ding vir bakterieë om te groei.

Meeste van ons dra ook die klere binnenshuis waar dit nooit son of wind kry nie.

Daarom sou ek sê dat jy dieselfde klere nie meer as so vyf of tien keer na mekaar in die Dri-Buddi moet droog nie. Na elke vyf keer of so, moet jy dit eers weer 'n slag bietjie buitekant op die wasgoeddraad hang.

Sonlig maak die bakterieë dood, en die wind bring bietjie vars lug in jou klere in om hulle te verfris.

Daarom kan jy nie altyd net die Dri-Buddi gebruik nie. Wat ek nou maar maak is ek hang my wasgoed op sonnige en mooiweersdae op die draad, en op reëndae gebruik ek die Dri-Buddi. Werk goed.

Hier is 'n variasie van die Dri-Buddi. Hierdie toestel word 'n "Genisis Dryfast" genoem. Dis maar basies dieselfde, maar het klein armpies binne-in om jou kouse of wat ook al op te hang:

Ek het al ander resensies oor die Dri-Buddi gesien op die internet. Party mense kla die toestel is te groot. Ek verskil van hulle, en kan net dink dis seker maar mense in Engeland of baie klein leefruimtetjies in Europa of waar ook al. Ek sê weer die toestel moet groter wees, sodat dit meer wasgoed kan vat en die klere nie aan mekaar raak nie sodat dit nie nat bly waar dit raak nie.

Laai nog meer