AIM model ACR9 bedkassie-radio en wekker

Ek het al 'n hele paar wekkers langs my bed gehad. Van party het ek meer gehou as van ander, maar was nog nooit heeltemal tevrede nie.

Die grootste probleem vir my is dat party wekkers net te hard tik. Veral in die nag hoor 'n mens die getik baie hard; baie harder as in die dag.

Ek hou ook nie eintlik van die soort wat jy in die donker met jou hand moet raakvoel om 'n knoppie te druk sodat dit vir jou die tyd verlig in die donker nie. Mens stamp net 'n klomp goed om.

In elk geval, ek het nou 'n oulike wekker gekry wat goed werk vir my doeleindes. Dis een van daardie bedkassie-wekkers met die ingeboude radiotjie:

AIM model ACR9 is hierdie spesifieke een se naam.

Die syfers is permanent rooi verlig en dus is die tyd maklik om in die donker te sien, sonder om enige iets eers te moet druk.

Die toestelletjie werk met elektrisiteit en moet by 'n elektriese sok in die muur ingeprop word. Ingeval jy bang is die toestel verloor al sy stellings in geval van "beurtkrag" of sulke bose slenters van die skelms wat 'n bose regering in posisies van mag plaas, hoef jy darem nie te vrees nie - die toestel neem twee AAA batterye om hom deur tye van elektrisiteitsonderbrekings te dra. Die syfers is dan net nie verlig nie totdat die kragtoevoer herstel is.

Kragverbruik van hierdie toestel is 5W.

Dit het natuurlik ook 'n radio ingebou. Die luidsprekers is net nie baie goed nie want hulle is maar klein, maar nogtans is dit luisterbaar sommer so langs die bed. Dit is een area waar die toestel dalk verbeter kan word - die luidsprekers.

Twee alarms kan gestel word, en jy kan ook kies of die toestel 'n geluid moet maak en of die radio moet aan gaan en as weksein dien.

Daar is ook 'n SLAAP-funksie wat beteken jy kan die radio laat speel terwyl jy aan die slaap raak, en na 'n tyd gaan die radio outomaties af. Jy kan stel dat dit van 10 to 90 minute vat vir die radio om dan outomaties af te gaan teen die tyd verstreke is.

En natuurlik is daar 'n SLUIMER knop wat jy druk as die wekker lui en jy wil nog 'n paar minute dut. Dan lui die wekker weer na 'n paar minute.

'n Heel nuttige dingetjie!

Laai nog meer