My tekentalent bring my in die moeilikheid

En nou bestaan ek op aarde, 'n klein mensie. 'n Kleutertjie. 'n Peutertjie.

My ma dink dis 'n goeie idee om vir my potlode en penne en papier te gee om my besig te hou.

Maar waarom die papier gebruik as daar so 'n mooi groot wit muur in die gang is wat net wag om beskilder te word? Dis heerlik om met 'n pen in die gang af te loop en 'n streep te trek van die begin van die muur tot op die einde.

Maar in plaas van prys vir my graffiti, kry ek pak. Mense waardeer nie my kuns hier rond nie.

Om net prentjies te teken is ook nie meer genoeg nie. Ek wil stories teken. Daarom teken ek op die kosyn van die woonkamerdeur. 'n Baie snaakse storie van 'n hasie, maar dis skreeusnaaks want die storie begin op 'n deel van die kosyn en dan gaan ons oor na 'n ander deel.

Dis vir my so komieklik dat ek voel ek moet dit met Ma deel. Ek gaan roep haar om na my storie te kom kyk.

Sy kom ewe moreel ondersteunend en kom staan by my tekenboek op die vloer. Nee, nie daar nie, sê ek vir haar. Ek wys vir haar my opwindende storie op die kosyn. So snaaks want die hasie se ore is verskriklik lank geteken op die lengte van die kosyn.

Ongelukkig is net ek beindruk. Moeder dink nie my Picasso-skilderwerk op die kosyn is prysenswaardig nie. Eers wou sy nie my entoesiasme stukkend slaan met harde woorde nie, maar terwyl ek die storie probeer vertel begin haar gesig al hoe meer verander. Stadig maar seker verander haar stemtoon na woede. Wat op aarde makeer my dan sodanig dat ek net nooit tevrede kan wees om net in my tekenboek en op die papiere wat sy my gee te teken nie? Wie gaan nou al hierdie krapmerke skoonmaak? Gaan dit ooit afkom?

Oepsie. Ek word nie juis as 'n kunstenaar waardeer hier rond nie :)

Dan eendag sien ek 'n strokiesprent. My ma leer my elke blokkie is 'n volgende deel van die storie. Dis iets wat ek kan doen!

Ek teken my strokiesprent met baie entoesiasme. Dan roep ek vir Ma om te kom kyk.

Maar ek self het ongelukkig vergeet in watter volgorde ek die blokke geteken het, en moet telkemale vir haar sê "o wag, eers het hierdie een gebeur..." Dis 'n deurmekaarspul.

Dan verduidelik Moeder hoe dit veronderstel is om te werk: Begin met die linkerkantste blok, en teken daarna in die een net regs van hom en gaan so aan tot op die einde van die papier, dan begin ek met 'n volgende ry. Ja, dit kan werk; ek doen dit so van nou af.

En dan volg nog meer strokiesprente. Ek hou daarvan om stories te vertel deur middel van strokiesprente. Ek raak ook verslaaf aan tekenprentfilms op televisie. My gesin wys my hoe om die National-video-opnemer te gebruik. Ek neem alles op wat geteken is. Almal is altyd kwaad vir my want ek "vat al die kassette!"

Pa neem my eendag saam na 'n apteek en koop vir my my eie videokasset wat net vir my gebruik bedoel is. Maar gou is die kasset vol opgeneem. "Neem weer bo-oor op!", sê die gesin vir my. Neem bo-oor op??? Nooit nie! Wat was die punt dan om die goed in die eerste plek op band vas te lê as dit nie is om dit te behou nie?

Ek vertel vir almal ek het nou al so 'n lang versameling programme opgeneem, dis "so lank soos die kerk is". (Wanneer 'n mens nog klein is, voel kerkdienste vir 'n mens verskriklik lank en jy kan nooit deur die ding wakker bly nie. In werklikheid natuurlik is dit net 'n uur en my videoopnames was baie langer as 'n uur.)

Daar is iets eienaardigs aan party animasieprogramme. Die mense praat 'n klomp gebrabbel. My gesin lig my in dat dit is omdat hulle 'n ander taal praat: Engels. Jig! Engels klink simpel en onaardig en onbekend. Ek wil tog net nooit Engels praat nie, dit weet ek verseker. Wie wat reg in sy kop is sal dan nou ooit wil Engels praat? Luister net na die programme in Engels; wie kan kop of stert uitmaak wat hulle sê? Omtrent niemand nie. Maar ek neem nogtans die programme op want wie hou dan nou nie van Maya die by nie? Dis 'n getekende program en daarom hou ek daarvan.

Eendag vertel my oudste broer my dat hulle hierdie "getekende programme" maak deur 'n prentjie in een posisie te teken en dan die prentjie in 'n ander posisie te teken en dan die prentjie nogmaals bietjie anders te teken totdat hulle genoeg prentjies het om vinnig na mekaar te wys sodat dit lyk of die prentjies beweeg. Ek wil dit ook eendag doen!

Maar vir nou kan ek nog net stories vertel deur die strokiesprentmetode. My ma het 'n kas ingerig waarin sy al die papiere en dokumente wat sy en Pa nie meer gebruik nie, bêre. Gewoonlik is die agterkante van die velle papier skoon en kan ek daarop teken. Nou kan ek altyd vir my papiere daar kry om op te teken, want Ma weet as ek nie papier het nie, gaan ek op iets anders teken.

Dit vat nie lank voor ek deur al die duisende velle papier gegaan het nie. Dan wys Ma my ek hoef nie net 'n klein dingetjie op die onderkant van 'n bladsy te teken nie; ek kan 'n bladsy dan maar in die helfte of kleiner deel en die oop dele van al die velle ook gebruik. So gesê so gedaan.

Dis lekker om te teken, maar ek wil nou animasies maak wat op die televisie kan wys. En dan lyk dit of ek die kans gaan kry...

Laai nog meer